U2-verkope ‘n nuwe rekord vir Computicket
2010-10-26 05:04
Johannesburg - Suid-Afrika se grootste kaartjieverkope-onderneming, Computicket, het rekordverkope gehad vir die eerste dag waarop kaartjies vir die rockgroep U2 beskikbaar was.
Volgens Lise-Marie Greeff-Villet, woordvoerder van Shoprite Checkers, is meer as 114 000 kaartjies Saterdag verkoop. Dit is 76% van al die beskikbare kaartjies en oortref die vorige rekord van 98 000 kaartjies wat vir Robbie Williams verkoop is.
Aanhangers was egter oor die naweek briesend oor probleme met Computicket se webtuiste en telefoonlyne wat nie hul aanvraag kon hanteer nie.
“Computicket vra kliënte om verskoning vir die feit dat die lyne soms nie gewerk het nie, maar dit moet verstaan word dat die meeste rekenaarstelsels in die wêreld nie die abnormale vloei wat Saterdag gebeur het, sou kon ondersteun nie.
“Die webtuiste het 86 000 kliënte op die dag verwag. Ondanks die onverwagse aanvraag het Computicket se stelsels bo verwagting gefunksioneer.”
- Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24