U2 regstreeks op YouTube
2009-10-20 21:25
Londen – Die bekende rockgroep U2 sal ‘n optrede regstreeks oor die gewilde internet video-webwerf YouTube uitsaai.
Die groep het die aankondiging op hulle webblad gemaak en gesê hulle vertoning by die Rose Bowl in Kalifornië wat hierdie komende Sondag sal plaasvind sal oor dié webwerf uitgesaai word.
Die 96 000 kaartjies vir die vertoning is reeds uitverkoop en dit sal die eerste keer wees dat so ‘n groot optrede regstreeks oor die web uitgesaai word.
"Die groep wil al vir ‘n geruime tyd so iets doen,” het Paul McGuinness , U2 se bestuurder, in ‘n verklaring gesê.
"Siende dat ons die vertoning in Los Angeles sal opneem, is dit die perfekte geleentheid daarvoor. Aanhangers reis gereeld ver om U2 te sien, op hierdie manier kan U2 na hulle gaan, reg oor die wêreld,” sê McGuinness.
YouTube sal die vertoning oor vyf kontinente uitsaai en twee herhalings sal ook op U2 se webblad en YouTube beskikbaar wees.
Die groep het hulle U2 360 toer in Junie vanjaar in Barcelona afgeskop.
YouTube het ‘n ongemaklike verhouding met platemaatskappye in die verlede gehad omdat baie van hulle voel dié netwerk moet hulle betaal vir aanlyn video’s van hulle kunstenaars.
- Reuters