U2 gratis konsert is ironies
2009-11-05 13:44
Berlyn – Bewonderaars wat gehoop het om ‘n kykie van U2 se gratis konsert te kry, gaan baie teleurgesteld wees nadat die organiseerders ‘n reuse-versperring opgerig het om diegene sonder kaartjies uit te hou.
Die konsert word gehou as ‘n herdenking van die val van die Berlynse Muur, sowat 20 jaar gelede.
Die besluit het Berlyners woedend gelaat nadat hulle dit ironies vind om mure te bou rondom ‘n konsert wat gehou word in herdenking van die muur wat geval het.
Die musiek-netwerk MTV, wat Donderdag se konsert organiseer wat voor die Brandenburg Hek gaan plaasvind, wou nie kommentaar lewer nie.
Sowat 10 000 kaartjies is op die internet vrygestel en is binne slegs drie ure opgeraap.
Die Berlynse Muur het op 9 November 1989 geval en die einde van amper 30 jaar se oos-wes Koue Oorlog beteken.
- Sapa-AP