Twee flieks oor SA dalk op kortlys vir Oscars
2009-12-01 09:27
Anesca Smith
Londen - Stories van Oscar-glorie vir twee flieks wat in Suid-Afrika afspeel, loop reeds dik in die buitelandse media, al is die toekenningsaand nog drie maande ver.
Invictus, Clint Eastwood se fliek oor hoe oudpres. Nelson Mandela Suid-Afrikaners verenig het agter die Springbok-rugbyspan wat in 1995 die Wêreldbekertoernooi gewen het, is ’n gunsteling vir ’n benoeming in die kategorie vir die beste rolprent.
Op sy beurt het District 9 – oor ’n groep boaardse wesens wie se ruimtetuig oor Johannesburg strand – vroeër vanjaar groot lof van resensente wêreldwyd ingeoes en word as ’n buiteperd in die Oscar-wedloop beskou. Die regie is behartig deur die Suid-Afrikaans-gebore Neill Blomkamp.
Hoewel Invictus nog nie uitgereik is nie, meen die Los Angeles Times en die New York Post dit is saam met The Hurt Locker ’n voorloper vir beste fliek.
Die BBC het gister geskryf Eastwood is gereeld onder die Oscar-gunstelinge en sal beslis weer in aanmerking kom.
Verder word benoemings voorspel vir Morgan Freeman as beste akteur in die rol van Mandela, en Matt Damon as beste ondersteunende akteur as die destydse Bokkaptein Francois Pienaar.
Freeman het jare lank ’n stryd gevoer om Mandela se outobiografie, Long Walk to Freedom, in ’n fliek omskep te kry.
“Die feit dat hy uiteindelik die geleentheid kry om dié Suid-Afrikaanse ikoon te speel, mag hom dalk net in aanmerking bring vir die (Oscar-) akademie, wie se lede bekend is vir sentimentaliteit,” is verder geskryf.
Die benoemings, wat vanjaar tien pleks van die gewone vyf flieks op die kortlys sal hê, word op 2 Februarie bekend gemaak.
Sterk mededingers vir beste fliek is Precious en Peter Jackson van Lord of the Rings-faam se nuwe fliek, The Lovely Bones.
- Die Burger