Tronkstraf vir Melrose Place-aktrise
2013-02-15 11:08
Somerville – ‘n Voormalige Melrose Place-aktrise, Amy Locane-Bovenizer, wat in 2010 in 'n motorongeluk betrokke was waarin 'n vrou dood is, is tot drie jaar tronkstraf gevonnis.
Locane-Bovenizer was ten tye van die ongeluk onder die invloed van alkohol.
Die slagoffer se familie is glo woedend oor die ligte vonnis, en het gehoop op tronkstraf van minstens 10 jaar.
“Wat 'n bespotting!” het Fred Seeman, die slagoffer se man, geskree net ná die uitspraak gelewer is.
“Geregtigheid het nie geskied nie,” het Ford Seeman, die slagoffer se 26-jarige seun, aan die regter gesê voor hy uit die hof gestorm het.
‘n Jurie het Locane-Bovenizer in November aan strafbare manslag skuldig bevind weens die dood van die 60-jarige Helene Seeman in die dorpie Montgomery.
Locane-Bovenizer sal na twee en ‘n half jaar vir parool in aanmerking kom. Haar rybewys is ook vir vyf jaar opgeskort, en sy moet boetes van duisende dollars betaal.
Locane-Bovenizer het bekendheid verwerf vir haar rol in die televisiereeks Melrose Place, wat tussen 1992 en 1999 uitgesaai is.
Sy het ook in rolprente soos Cry-Baby, School Ties en Secretary verskyn.
Haar bloed-alkoholvlak was amper drie keer meer as die wettige perk toe die ongeluk plaasgevind het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AP