TopTV wil porno-kanaal oor Kersfees wys
2011-12-14 17:02
Kaapstad – TopTV beplan om hul 24-uur-sekskanaal nog in Desember bekend te stel, het Thato Mahapa,'n senior bestuurder by die kanaal gesê.
Die televisie-operateur het egter nog geen goedkeuring vanaf die Suid-Afrikaanse reguleerder ontvang het nie.
Volgens Mahapa hoop TopTV om sy porno-kanaal "hierdie maand" nog bekend te stel, met die moontlikheid om dit oor Kersfees te loods.
Melinda Connor, woordvoerder van TopTV het egter aan Channel24 gesê sy kan bevestig dat die porno-kanaal nie in Desember bekendgestel gaan word nie.
"Ons sal nader aan die tyd die datum bekendmaak wanneer die kanaal bekendgestel gaan word," het sy gesê.
Die kanaal, wat pornografies van aard is en gemik is op heteroseksuele kykers, sal op die Astra 4A-satelliet, dieselfde satelliet wat deur TopTV gebruik word, uitgesaai word.
John Solomon van African Satellite Installations (ASI) het gesê die maatskappy sal spesiale dekodeerders en slimkaarte teen R99 per maand aan kykers verhuur wat toegang tot die kanaal wil verkry.
Die dekodeerders kan slegs gehuur word en bly die eiendom van die verskaffer.
ASI het reeds 5 000 dekodeerders bestel.
– Vir die volledige storie besoek Channel24.
– Volg Nuus24 op Twitter.