TopTV van Saterdag beskikbaar
2010-04-29 09:50
Thinus Ferreira
Kaapstad - TopTV, Suid-Afrika se nuwe satelliet-televisiediens wat Saterdag begin uitsaai, het ’n bladsy uit die Harry Potter-boekbekendstelling geleen met massiewe geheimhouding rondom die dekodeerders, oftewel steltopbokse (STB’s).
Die Burger verneem die TopTV se STB’s, wat van Saterdag verkoop mag word, is reeds by duisende winkels landwyd afgelewer.
Elke winkel moes egter uiters streng vertroulikheidsklousules onderteken dat dié piepklein, maar kragtige digitale dekodeerders eers Saterdag uitgepak, uitgestal en verkoop mag word. Daar word gefluister dat dit R699 gaan kos, maar TopTV het gesê “R699 is nie die prys nie”.
Die nuwe satellietplatform, die eerste sedert DStv 15 jaar gelede hier begin het, het vanaand ’n glans-bekendstellingspartytjie in Johannesburg waar die Nobelpryswenner Al Gore ’n eregas sal wees.
Wanneer ’n intekenaar ’n TopTV-dekodeerder koop, is die installeringkoste outomaties ingesluit. TopTV, wat van die SAUK se radio- en TV-advertensies gebruik maak, sal na verwagting vandag die STB-prys bekend maak. Intekenaars wat TopTV wil kry, moet die STB koop en dan die oproepsentrum by 086 008 6788 bel. ’n Installeerder sal binne 48 uur die installering gratis doen met ’n 90 cm-satellietskottel, waarna die TopTV-subskripsie aangeskakel word.
Intekenaars kan uit 55 kanale kies en betaal tussen R99 en R249 per maand. DStv se premium-diens kos nou R529 per maand.
On Digital Media (ODM) se TopTV is die eerste kompetisie vir MultiChoice se DStv.
DStv beplan reeds bykomende TV-kanale.
Soveel kos DSTV: R 529 per maand
Soveel kos TopTV: R249 per maand
- Die Burger