TopTV raak nou al hoe goedkoper
2010-09-16 07:55
Kaapstad - TV-kykers kan nou teen R299 toegang tot betaaltelevisie in Suid-Afrika kry.
On Digital Media (ODM) se TopTV het Woensdag sy dekodeerderprys skerp verlaag.
Die prysverlaging beteken dat die grootste struikelblok om ’n betaaltelevisie-kyker te word – die aankoop van ’n dekodeerder en installasiekoste – uit die weg geruim word. TopTV, wat in Mei ’n kommersiële betaaltelevisiediens begin het en op die eerste dag 50 000 dekodeerders teen R499 verkoop het, het teen einde Augustus, reeds 200 000 TopTV-dekodeerders in die mark.
Die nuwe mededinging stu nou ongekende innovasie en omwenteling in die Suid-Afrikaanse TV-bedryf en die betaaltelevisie-mark.
MultiChoice se DStv het sedert TopTV begin het nog nuwe TV-kanale – waaronder ’n fokus op hoë-definisie-kanale (HD) – bygevoeg. Daar is ook met die suksesvolle en gewilde DStv on Demand-diens begin en DStv stel môre nog ’n nuwe HD-kanaal, M-Net Movies 1 HD, bekend. Volgens ingeligtes is nog DStv-kanale op pad voor die einde van die jaar, sowel as DStv Box Office – ’n uitbreiding van die DStv on Demand-diens waar intekenare volgens ’n “pay per view’’-stelsel dadelik na die jongste fliekuitreikings sal kan kyk met die druk van ’n knoppie.
TopTV beplan om volgende maand tussen vyf en tien nuwe TV-kanale by te voeg, waaronder die Afrikaanse ASTV-kanaal as ’n teenvoeter vir DStv se kykNET. TopTV wil ook volgende jaar HD-kanale begin uitsaai.
Hoewel TopTV se nuwe lae dekodeerderprys volgens ODM ’n lente-promosie is, het TopTV-ingeligtes aan Die Burger gesê dat die plan is om dit die permanente nuwe prys te maak.
Dit beteken dat TopTV byna die totale dekodeerder- en installasiekoste subsidieer om dramatiese intekenaargroei te bewerkstellig.
Die koop van ’n dekodeerder en die installeringskoste – ongeag die operateur – kos eintlik in die omgewing van tussen R1 500 en meer.
- Die Burger