TopTV kry Afrikaanse kanaal
2010-10-15 08:18
Kaapstad - Of jy nou die jongste nuus oor bekendes wil volg, of na die koelste musiek wil luister, die nuwe Afrikaanse Satelliet-televisiekanaal (ASTV) het die hele pakkie.
Dié kanaal is ’n nuwe toevoeging tot die pakket van TopTV en is pas bekend gestel. Intekenare kan uitsien na Afrikaanse vermaak.
“ASTV is ’n kanaal vir ons mense, oor ons mense,” het Jaco Ferreira, besturende direkteur, gesê.
Van die programme wat na dese op die kanaal gesien kan word, is Kollig, Kief , Restaurante toe en Paparazzi .
“Ons doel is om lekker kykgenot in Afrikaans te verskaf. Ons is nie in kompetisie met ander kanale nie. Dié kanaal is daar om mense spesifiek in Afrikaans te vermaak.”
Die program Kief is op tieners gemik. Alles oor die nuutste musiek, videospeletjies en flieks word daarin gewys.
Lucinda Strydom, voorsanger van die groep Melktertkommissie, bied dié program aan en jong mense sal by die aanslag aanklank vind, het Ferreira gesê.
Die program Paparazzi, wat reeds op almal se lippe is, bring die mense op die hoogte van die nuutste gebeure in die wêreld van Suid-Afrika se bekendes.
“Die program sal soortgelyk aan E! Entertainment op DStv wees. Dit sal egter op plaaslike bekendes toegespits wees,” het Ferreira bygevoeg.
Kunsliefhebbers kan ook hul lippe aflek. Die joernaalprogram Kollig fokus op die kunste, spesifiek in Afrikaanse gemeenskappe. In dié program gaan kuier die aanbieder oral waar Afrikaans leef en daar word met Afrikaanse kunsghoeroes gesels.
Resepte en geregte word in die kosprogram Restaurante toe bespreek en onderhoude word met sjefs by die toprestaurante in Suid-Afrika gevoer.
“’n Verskeidenheid musiek deur plaaslike Afrikaanse en Engelse kunstenaars word ook vir kykers voorgesit,” het Ferreira gesê.
Oor die moontlikheid van ’n nuusprogram, is daar nie nou al regtig sprake nie.
“Ons sal kyk daarna om dalk een in die toekoms te begin.”
- Volksblad