TopTV-baas en raad vergader
2012-02-02 11:55
Johannesburg – Vino Govender, uitvoerende hoof van TopTV, is in gesprek met die raad oor 'n "gemeenskaplike ooreenkoms" om sy dienste te beëindig, het die betaalkanaal Donderdag gesê.
"Die raad en die uitvoerende hoof (Govender) is in gesprek oor 'n gesamentlike ooreenkoms, maar dié gesprekke is nog nie afgehandel nie," het Melinda Connor, woordvoerder, gesê.
Connor het gesê die maatskappy gaan nie verder kommentaar lewer nie.
Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) het verlede week beslis dat TopTV nie sy omstrede pornografie-kanale kan bekend stel nie.
Dít volg ná 'n lang proses van openbare konsultasie nadat die kanaal aansoek gedoen het om drie kanale bekend te stel.
Okosa het toe beslis dat vroue se reg op waardigheid belangriker is as TopTV se reg op vryheid van uitdrukking en die reg van kykers om pornografie op TV te kyk.
Dit is nie duidelik of Govender se vertrek enigsins verband hou met die Okosa-beslissing nie.
Connor het gesê Okosa moet binne 30 dae redes vir sy besluit verskaf.
"Ons wag nog vir Okosa se verslag."
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA