Toekoms van Arnie se projekte onseker
2011-05-20 09:44
Los Angeles - Die voormalige goewerneur van Kalifornië, Arnold Schwarzenegger, het 'n paar van sy beplande projekte uitgestel terwyl hy hom voorberei op wat moontlik 'n baie duur egskeiding kan wees ná onthullings dat hy 'n kind gehad het by 'n huishoudster wat 20 jaar vir sy familie gewerk het.
Die voormalige Terminator-ster het sy agent gevra om al sy filmprojekte tot verdere kennisgewing uit te stel, het 'n verklaring van Schwarzenegger se kantoor gelui.
"Goewerneur Schwarzenegger fokus op persoonlike sake en is nie bereid om hom te verbind aan enige produksie-skedules of -tydlyne nie," het die verklaring gelui.
Prominente egskeidingsprokureurs voorspel dat Maria Shriver, die Kennedy-erfgenaam en voormalige TV-aanbieder, waarskynlik 'n astronomiese bedrag geld uit 'n egskeiding sal kry.
Hoewel ontrouheid nie in Kaliforniese howe teen 'n eggenoot gebruik kan word nie meen kenners dat Schwarzenegger se foute wel die uitkoms van die saak kan bepaal.
"Elke regter sal weet wat gebeur het, en ek dink dit sal teen hom gehou word," het Robert Nachshin, 'n prokureur wat al die eks-vroue van sterre soos Rod Stewart en John Ritter verteenwoordig het, gesê.
In Nachshin se opinie behoort Shriver minstens $100 000 (sowat R686 000) per maand van Schwarzenegger te ontvang, met 'n verdere $40 000 (R274 000) per maand omdat hulle drie kinders onder 18 het.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- AP