Tiger se vrou nou gewild onder SA mans
2010-04-21 09:41
Johannesburg - Tiger Woods se sekskapades het sy vrou, Elin Nordegren, se gewildheid skynbaar onder Suid-Afrikaanse mans laat toeneem.
“Dis verbasend dat sy baie gewild onder mans geword het en sodoende een van die voorlopers in vanjaar se FHM sexyste-vrou-ter-wêreld-kompetisie is,” het Hagen Engler, redakteur van dié tydskrif, gesê.
Volgens hom is Nordegren se skielike gewildheid “ironies genoeg grootliks te wyte aan haar man se ontrouheid”.
Die twee is die afgelope ruk gereeld in die nuus.
FHM stel jaarliks sy lys van die 100 sexyste vroue ter wêreld op.
Lesers benoem plaaslike sowel as internasionale vroue aanlyn of per SMS.
Die vroue met die meeste benoemings is dan op die lys van 100.
Engler het gesê anders as in die verlede maak opkomende modelle vanjaar goed opgang.
Hy skryf dit toe aan “ ’n neiging wat ons nog nie vantevore onder opkomende modelle gesien het nie, naamlik gesofistikeerde bemarkingsveldtogte”.
Onder die plaaslike skoonhede wat wêreldbekende vroue voorheen uitgestof het, is die model en aktrise Lee-Ann Liebenberg, die TV-aanbieder Candice Hillebrand, die McGregor-modelsusters, Kerry en Tracy, Minki van der Westhuizen en die model en aktrise Tanya van Graan.
Lesers het tot 12 Mei om vroue te benoem en die wenner word einde Mei op ’n geleentheid in Johannesburg aangewys.
- Die Burger