Tiger se skoonma in hospitaal
2009-12-09 03:02
Florida – Tiger Woods se skoonma is Dinsdag in 'n hospitaal opgeneem nadat sy van maagpyn gekla het.
“Sy was in die hospitaal opgeneem nadat sy van maagpyn gekla het. Maar sy is tans by haar huis, Tiger se huis, waar sy besig is om aan te sterk,” het Dan Yates, woordvoerder van die Health Central-hospitaal gesê.
Die 57-jarige Barbro Holmberg het elf ure in die hospitaal deurgebring voordat sy in ‘n rolstoel ontslaan was. Yates wou nie verdere kommentaar lewer nie.
Daar word beweer dat Elin Woods, Tiger se vrou, by die hospitaal gesien was. Volgens berigte het sy glo uit hul huis getrek en woon tans in ‘n nabygeleë huis wat ook deur Tiger besit word.
Dít kom nadat verskeie vroue die afgelope tyd beweer het dat hulle verhoudings met die gholfspeler gehad het.
Woods het Woensdag in ‘n verklaring op sy webwerf gesê hy is jammer hy het sy familie in die steek gelaat.
- Sapa-AFP