‘The tribe has spoken’ – en Jub Jub is uit
2010-04-15 11:11
Johannesburg - M-Net het besluit die hip hop-sanger Jub Jub, wat nou van moord aangekla word, sal nie aan die slotepisode van Survivor SA: Santa Carolina deelneem nie.
Dié episode, waarin aangekondig word of Ashley Hayden, TV-aanbieder, of die eksotiese danseres GiGi wen, dien ook as ’n reünie-program waar die deelnemers oor hul wedervaringe op die eiland gesels.
Lani Lombard, M-Net se publisiteitsbestuurder, het Woensdag aan Beeld gesê daar is ’n paar redes vir die besluit oor Jub Jub (Molemo Maarohanye).
“Ná deeglike oorweging het ons besluit Jub Jub se teenwoordigheid kan die aandag aftrek van die doel van die laaste episode.
Veiligheidsmaatreëls was ook ’n kwessie.”
Maarohanye is tans op borgtog uit op vier aanklagte van moord nadat hy en ’n vriend, Themba Tshabalala, glo vier skoolseuns tydens ’n straatresies doodgery het.
Hulle het ook positief getoets vir kokaïen en morfien.
“Dit is tradisie dat al die Survivor-deelnemers die regstreekse reünie-program bywoon, maar M-Net en Endemol het weens die onlangse gebeure besluit om Jub Jub uit te sluit,” het Lombard gesê.
Die kanaal sal tydens die uitsending bekend maak wat hy besluit het oor die geld wat Jub Jub vir sy liefdadigheidsorganisasie, wat nie bestaan nie, sou kry.
- Beeld