The Simpsons nooi publiek uit
2009-10-19 11:51
Hollywood - Die animasiereeks, The Simpsons, hou ‘n kompetisie om te kyk of Jan Publiek met ‘n nuwe karakter vir die reeks vorendag kan kom.
Vervaardigers het hierdie week die kompetisie aangekondig, onder die slagspreuk “Unleash your Yellow,” met verwysing na die snaakse gelaatskleur van karakters in die animasiereeks.
Die program se bemarkers het die kompetisie op 'n ligte noot afgeskop deur grappenderwys te vertel dat hulle ná 20 jaar op die stel van The Simpsons, "te moeg en te ryk" is om enigsins om te gee, en dat hulle 'n bietjie inspirasie van die publiek benodig.
Diegene wat vir die kompetisie inskryf moet met 'n naam vir die karakter vorendag kom, sowel as 'n unieke 'n slagspreuk en 'n kort beskrywing van die karakter.
Die wenner kry die geleentheid om na Los Angeles te reis en saam met die kreatiewe span agter die skerms te werk aan 'n episode wat op 31 Januarie 2010 uitgesaai gaan word.
Die televisiereeks The Simpsons, met die Simpsons-familielede Homer, Marge, Bart, Lisa en Maggie, het een van die langste reekse op die kassie geword, en betree nou sy 21ste seisoen.
Indien jy 'n karakter vir dié reeks wil skep, besoek The Simpsons se webwerf.
- Reuters