Teater van fees in Grahamstad na Kaap
2010-07-27 08:53
Die Burger
Die Theatre Arts Admin Collective, ’n ontluikende teatergeselskap van Observatory in Kaapstad, hou van Dinsdag tot Saterdag ’n fees, genaamd Post Grahamstown Season of Performances.
Die fees bestaan uit vier produksies wat vanjaar op die Nasionale Kunstefees in Grahamstad te sien was: Inua, Reclaiming the P-Word, Woza Andries! en Tseleng: the Baggage of Bags – asook ’n nuwe produksie, genaamd Lucy Gets to Die.
Al vyf stukke word in die Metodiste-kerk op die hoek van Miltonweg en Wesleystraat in Observatory opgevoer.
Inua, ’n produksie van Baba Yaga Theatre, is geskep en word uitgevoer deur Jori Snell. Dit is fisieke teater wat stories, dans, musiek en beelde gebruik om ’n verhaal te vertel van ’n vrou wat mitiese wesens ontmoet.
Dit word van vandag tot Donderdag om 18:30 opgevoer.
Reclaiming the P-Word staan onder regie van Jacqui Tamri. Dit is ’n verwerking van die Broadway-treffer The Vagina Monologues. Dit word Donderdag om 20:30 en Vrydag om 21:45 opgevoer.
Woza Andries! is ’n produksie deur die dramadepartement van die Universiteit Stellenbosch. Dit is ’n verwerking van die bekende stuk Woza Albert!, en is deur Robert Volker geskryf. Daarin word gekyk na wat in Suid-Afrika kan gebeur indien oudpresident Nelson Mandela sou sterf. Christiaan Olwagen is die regisseur. Dit is Dinsdag en Woensdag om 20:00 te sien.
Tseleng: The Baggage of Bags word geregisseer deur Sara Matchett en deur Mbali Kogodintsi uitgevoer. Dit is ’n verhaal van mense wat gedurig op reis is en ’n vrou wat volwassenheid bereik. Dit word Vrydag en Saterdag om 18:00 opgevoer.
Yusrah Bardien is die skrywer van Lucy gets to Die, waarin ’n vrou haar drome van om ’n ster te word vir ’n voorstedelike lewe opsy skuif. Dit word Vrydag en Saterdag om 20:15 opgevoer.
Kaartjies kos R40 vir ’n enkele opvoering of R70 vir albei op dieselfde aand. Toegang na al vyf produksies kos R150. Bespreek by 021 447 3683.
- Die Burger