Taylor in die wolke
2009-10-15 00:31
Nashville - Taylor Swift sê sy is “in die wolke” oor die ses nominasies vir die Amerikaanse Musiektoekennings (AMA) wat sy ontvang het.
Swift (19) het die meeste nominasies ontvang gevolg deur Michael Jackson met vyf en Eminem met vier. Sy sê sy sien dit as ‘n groot eer omdat sy in Nashville woon en Country-musiek sing.
“Om ‘n gehoor buite dié genre te hê wat my aanvaar, maak my dae net soveel meer sonnig,” sê sy.
Swift is genomineer vir kunstenaar van die jaar, gunsteling vroulike pop- en countrykunstenaar, gunsteling pop- en countryalbum en gunsteling volwasse kunstenaar.
Die AMA-wenners word deur aanlyn stemme bepaal en sal tydens ‘n seremonie in Los Angeles op 22 November aangekondig word.
- Sapa