Tant Ina se Kook en Geniet laat rekords spat
2012-02-01 09:07
Kaapstad – Dit was bitterlik harde werk wat haar ma die sukses gemaak het wat sy vandag steeds is, sê Eunice van der Berg, die dogter van die kookboeklegende Ina de Villiers.
En tant Ina, soos almal haar geken het, oortref vandag nog rekords– 60 jaar nadat Kook en Geniet in haar agterplaas in Pretoria die eerste keer die lig gesien het.
Hierdie immergroen resepteboek het pas die magiese verkoopsyfer van 1111111 oortref.
Human & Rousseau het die publikasieregte van sowel die Afrikaanse as Engelse boeke in 1990 oorgeneem nadat De Villiers dit al die jare self uitgegee het.
Van der Berg, ’n huishoudkundige soos haar ma, het later meer as ’n jaar lank saam met haar vriendin en kollega Heleen Meyer aan die bygewerkte uitgawe gewerk, wat in November 2009 verskyn het.
Hoewel sy die boek gemoderniseer het, was dit vir haar belangrik om die boek as eenheid te benader, die essensie te behou en iets van die kultuur wat dit weerspieël, vertel sy.
Haar ma het sommer van vroeg al metrieke mate ingebring, maar altyd die koppies en lepelgroottes tussen hakies behou. Dis vandag nog so.
“Ons het meestal foute reggemaak, hier en daar herhalings uitgegooi en enkele van die heel outydse resepte. Ek was vas van plan om die resep vir gekookte skaapboud te skrap, maar toe sê ’n vriend en bekende sjef dis deel van ’n klassieke Franse tradisie.
“Só het die jellieslaaie ook gebly, en selfs bron en hoe om tarentaal te maak. Dis vir daardie resepte waarvoor baie mense vandag nog die boek koop.”
Een klassieke resep wat aangepas is, sê sy, is die bekende “Japie se gunsteling”, ’n gebakte lemoenpoeding. “Die poeding is na my pa genoem. Ek weet nie of dit is omdat hy altyd gesê het dis so lekker hy eet als op nie, maar die resep was baie klein. Ons het dit toe met ’n halfgrootte vergroot.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger