Talentagentskap eis betaling ná regisseur se dood
2013-01-31 15:34
Los Angeles – Die ontslape Hollywood-regisseur Tony Scott het die CAA-talentagentskap in Hollywood meer as $1 miljoen (sowat R9 miljoen) se kommissie geskuld toe hy dood is – en die agentskap wil dié geld nou invorder.
Die Top Gun-regisseur het op 19 Augustus by 'n brug in Los Angeles afgespring.
CAA, wat Scott verteenwoordig het, het Woensdag by ‘n hof in Los Angeles ‘n dokument ingedien wat beweer dat Scott die agentskap nog kommissie skuld vir die flieks Unstoppable, Man on Fire, The Taking of Pelham 123 en Déjà vu.
CAA, wat die geld by Scott se boedel wil eis, beweer dat hy $1 040 522 (sowat R9,3 miljoen) geskuld het.
Volgens Scott se verteenwoordiger, Simon Halls, is dit 'n standaard regsprosedure vir 'n maatskappy om dié soort eis in te dien na iemand se dood.
“Tony en die CAA het 25 jaar lank wonderlik saamgewerk en Tony se boedel sal vinning werk om met die agentskap te skik,” het Halls gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter