TV-rolprent oor Wills, Kate binnekort op kassie
2011-05-30 12:24
Roemenië – Skaars ‘n maand ná prins William en Catherine se troue word ‘n televisierolprent oor hulle romanse reeds in Roemenië geskiet.
Die film, William & Kate: A Royal Love Story, sal na verwagting in Augustus op die Hallmark-kanaal uitgesaai word.
Linda Yellen, vervaardiger van die film, het aan die nuusagentskap Associated Press gesê die film is meer as ‘n romanse.
“Dit is ook ‘n sielkundige verhaal oor die nagedagtenis van prinses Diana en haar nalatenskap.”
Volgens Yellen, wat Diana al op drie geleenthede ontmoet het, wys die film hoe William sy lewe met sy ma se nagedatenis gelewe het met al die besluite wat hy moes neem, asook die besluit oor met wie hy eendag sou trou.”
Verfilming het vroeg in Mei begin.
Yellen het twee weke nadat William sy ma se ring aan Catherine gegee het aan die manuskrip begin skryf.
Die Britse aktrise Alice St. Clair vertolk die rol van Catherine terwyl die Amerikaanse akteur Dan Ambover as William te sien sal wees.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- AP