Survivor-vervaardiger aan Mexiko uitgelewer
2011-07-13 20:03
Los Angeles – ‘n Regter het Dinsdag beveel dat Bruce Beresford-Redman, gewese vervaardiger van die televisieprogram Survivor, aan Mexiko uitgelewer moet word.
Beresford-Redman word daarvan aangekla dat hy sy vrou vermoor het terwyl hulle twee jaar gelede in Cancun vakansie gehou het.
Regter Jacqueline Chooljian het vasgestel daar is voldoende bewyse om te staaf dat Beresford-Redman moontlik sy vrou kon vermoor het.
Daar word van Amerika vereis om Beresford-Redman binne 60 dae na Mexiko te stuur, maar hy kan appèl aanteken, wat die proses vir ‘n onbepaalde tydperk kan vertraag.
Monica Beresford-Redman (41) se lyk is in April 2010 in ‘n drein by die Cancun-oord gevind. Beresford-Redman het sy vrou drie dae voordat haar liggaam gevind is, as vermis aangemeld.
Owerhede in Mexiko beweer dié twee het ‘n argument gehad, waarna Beresford-Redman haar doodgeslaan en haar liggaam in ‘n drein gegooi het.
Beresford-Redman hou egter vol hy is onskuldig.
Staatsaanklaers in Amerika beweer egter daar kan moontlik drie redes wees hoekom Beresford-Redman sy vrou vermoor het – moontlik sodat hy versekeringsgeld kon eis, toesig oor hul kinders kon kry en ook met sy buite-egtelike verhouding kon voortgaan.
Bruce en Monica se twee kinders word tans deur hul ouma en oupa grootgemaak.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters