Survivor-man se 'vals organisasie' bekyk
2010-01-28 08:13
Amanda de Lange
Johannesburg - M-Net stel ondersoek in na gerugte dat die musikant Jub Jub, een van die deelnemers aan Survivor SA: Santa Carolina Celebrity Challenge, ’n liefdadigheidsorganisasie verteenwoordig wat nie bestaan nie.
Elk van die glansmense wat aan die reeks deelneem, moes ’n liefdadigheidsorganisasie kies wat R500 000 sal kry as dié deelnemer wen.
Die deelnemer wat wen, kry ook R500 000 vir hom- of haarself.
Die organisasies kry egter ook geld, selfs al sou die deelnemer uitgestem word, of soos in die geval van Jub Jub en Christina Storm self besluit om die reeks te verlaat.
Dié bedrag word vasgestel op grond van hoeveel dae die deelnemers in die spel bly.
Jub Jub het gekies om die Ithuteng-Trust te verteenwoordig – ’n skool wat deur Jub Jub se ma, Jaqueline Maarohanye, ook bekend as Mama Jackey, bestuur is.
Mama Jackey word self as ’n omstrede figuur beskou. Haar skool in Klipspruit in Soweto is verlede jaar gesluit nadat dit bekend geword het dat Maarohanye glo die leerders en die skool gebruik het om geld van bekende skenkers soos Oprah Winfrey en oudpres. Bill Clinton van die VSA te kry.
Sy is ook in 2007 daaraan skuldig bevind dat sy ’n leerder ontvoer het.
Lani Lombard, reklamebestuurder van M-Net, het gister gesê die kanaal ondersoek die saak. As bevind word dat die Ithuteng-trust nie bestaan nie, sal Jub Jub ’n ander liefdadigheidsorganisasie moet kies.
Volgens Lombard was M-Net nie voorskriftelik oor die keuse van ’n liefdadigheidsorganisasie nie omdat die kanaal wou hê die glansmense moes iets kies wat hulle na aan die hart lê. “Ons wou hê dat hulle organisasies kies waarvoor hulle hard sou baklei om die prysgeld te wen.
“Tydens die verfilming van Survivor moes ons die identiteit van die deelnemers so geheim as moontlik hou en die liefdadigheidsorganisasies het eers later gehoor dat die deelnemers hulle gekies het. Hoewel die name een keer in die program genoem is en deel van die publisiteit was, kan ons die deelnemers nog te enige tyd vra om hul organisasie te verander.”
Volgens Lombard behels die kanaal se ondersoek na die geldigheid van die liefdadigheidsorganisasies in die eerste plek gesprekke met die deelnemers en dan ook dat dokumentasie voorgelê word om te bepaal of die organisasies aan M-Net se reëls oor skenkings voldoen.
Lombard meen Jub Jub was nie opsetlik bedrieglik met sy keuse van ’n organisasie nie. “Na aanleiding van gesprekke met Jub Jub glo ons dat hy niemand probeer bedrieg het nie. Dit is vir hom ook belangrik dat die skenking na behoeftiges gaan en ons gaan saamwerk om te verseker dat dit wel gebeur.”
Die kanaal wil nie nou al bekend maak hoeveel geld die onderskeie organisasies sal kry na aanleiding van die deelnemers se tyd in die reeks nie.
“Dit sal eers aan die einde van die reeks bekend gemaak word, omdat ons dit ’n verrassing vir die deelnemers wil hou.”
Jub Jub sal op versoek van M-Net eers kommentaar lewer wanneer daar uitsluitsel oor die saak is. Cindy Nell-Roberts is die tweede deelnemer van Survivor SA: Santa Carolina wat gisteraand uitgestem is. Sy was egter nie die enigste glansmens wat die reeks gisteraand verlaat het nie. Jub Jub het gekies om die reeks te verlaat nadat hy gekla het hy het op die eiland ’n infeksie in sy geslagsdele opgedoen.
- Die Burger