‘Survivor SA’ mik nou Mosambiek toe
2009-10-31 13:54
THINUS FERREIRA
Kaapstad
Survivor SA: Mozambique!
Die nuwe plaaslike weergawe van dié gewilde realiteitsreeks mik vir die derde seisoen Mosambiek toe, het Die Burger betroubaar verneem, hoewel niemand dit amptelik wil bevestig nie.
Die nuwe seisoen, waaraan plaaslike bekendes dié keer deelneem, begin op 20 Januarie om 20:00 op M-Net, maar Endemol SA begin reeds op 13 November aan die Mosambiekse kus verfilm.
Mark Bayly, wat nou M-Net se All Access aanbied, is nie weer die aanbieder nie. Sy opvolger sal beslis ’n man wees. Dit is nog nie bekend wie die gelukkige ou is nie.
Survivor SA: Mozambique sal van middel November tot Desember oor 29 dae aan die Mosambiekse kus verfilm word. Op die oomblik beplan Endemol SA om ewe veel manlike as vroulike deelnemers te hê.
Elke bekende sal geld wen, na gelang van hoe lank hulle daarin slaag om in die eksotiese TV-reeks te bly.
Endemol SA het reeds grootliks besluit wie die bekendes gaan wees, hoewel daar nog finale veranderinge aangebring kan word. Onder die groep is “ ’n hele paar pragtige mense”, het ’n bron gesê.
Nog ’n ingeligte na aan die produksie het aan Die Burger gesê daar word “van reg aan die begin tot aan die einde kinkels ingebou om kyker-interaksie moontlik te maak”.
- Die Burger