Survivor SA: Ongeluk eis spanlid
2010-01-15 06:33
Johannesburg - Die dood van ’n lid van Survivor SA: Santa Carolina se produksiespan nadat hy in Mosambiek van ’n bewegende produksievoertuig geval het, het sowat ’n maand ná sy afsterwe eers op die lappe gekom.
Die TV-kanaal M-Net, waarop dié program van 20 Januarie uitgesaai word, ontken egter dat hy of Endemol SA, wat die reeks vervaardig het, Peter Jones (49) se dood toegesmeer het.
Jones het ook die bynaam “Shot Jones” gehad.
Die produksiespan was op Santa Carolina, een van die eilande in die Bazaruto-eilandgroep in Mosambiek, vir die verfilming van dié reeks.
Lani Lombard, M-Net se publisiteitsbestuurder, het Donderdag by navraag gesê Jones, wat agter op ’n produksievoertuig was, het op 1 Desember van die bewegende voertuig geval en kopbeserings opgedoen.
Hy is per lugambulans na ’n Johannesburgse hospitaal vervoer waar hy tien dae later dood is nadat hy in ’n koma verval het. Jones was ’n argitek van beroep en koördineerder van Endemol SA se kunsafdeling.
Sy dood kom ’n dag nadat verfilming van die reeks voltooi is.
Oor gerugte dat M-Net Jones se dood toegesmeer het, het Lombard gesê: “Peter (Jones) se afsterwe was ’n persoonlike tragedie vir vriende, familie en die Survivor-span en ons het dit as sulks hanteer.
“Die begrafnis was in Desember en ten tyde daarvan was daar talle huldeblyke in openbare forums soos die internet, Facebook en Twitter.”
Helen Smit, M-Net se hoof van plaaslike inhoud, het gesê Jones het “baie jare” in die plaaslike TV-bedryf gewerk en almal wat saam met hom gewerk het, sal hom met goeie herinneringe onthou.
Architect Africa Collective, ’n vereniging wat hom beywer om blootstelling vir die werk van argitekte in Afrika uit te brei, het ná Jones se dood in ’n verklaring gesê sy onverwagse dood het groot hartseer gebring vir vriende en kollegas wat die voorreg gehad het om saam met hom te werk of studeer het.
- Beeld