Suri in Tom Cruise se hofsaak betrek
2013-02-15 17:38
Los Angeles –Tom Cruise se regsgeding teen die Bauer Media Group, uitgewer van die tydskrif Life & Style, is glo besig om lelik te raak, met die akteur se dogter, Suri, wat ook in die saak betrek word.
Cruise het die publikasie vir $50 miljoen (sowat R436 miljoen) in Oktober gedagvaar oor 'n voorbladstorie waarin die tydskrif beweer het dat hy nie meer tyd met sy dogter deurbring nie.
Die versoeke wat deur albei partye gerig word, kan egter ernstige nagevolge hê, het RadarOnline berig.
Die prokureur van Bauer Media het glo Donderdag 'n dokument by die hof ingedien waarin hy die mate wil weet waarin Cruise in kontak was met Suri ná sy egskeiding van Katie Holmes.
Die uitgewer dring ook daarop aan om te weet wat die akteur se rol in die Kerk van Sciëntologie was en watter rol dit gespeel het in hoe hy met die kind gekommunikeer het.
Alonzo Wickers, prokureur van Bauer Media, wil ook weet wat Suri (6) se verstandelike en emosionele toestand was na haar ouers se egskeiding.
Cruise se regspan wil egter hê dat Life & Style eers sy anonieme bronne bekend maak.
Sy regspan beweer ook dat Bauer ‘n geskiedenis van haat het teenoor minderheid godsdienstige groepe en hul lede.
'n Foto van 'n huilende Suri is op die tydskrif se uitgawe van 30 Julie 2012 gepubliseer onder die opskrif "Suri in trane, agtergelaat deur haar pa".
Die meisie woon by haar ma sedert Holmes en Cruise se egskeiding verlede jaar.
– Volg Nuus24 op Twitter