Superman strokiesprent verkoop vir R7,8 miljoen
2010-02-23 05:01
New York – ‘n Skaars kopie van die eerste Superman strokiesprentboek het vir $1 miljoen (R7,8 miljoen) verkoop en die rekordprys wat slegs verlede jaar opgestel is verpletter.
Die uitgawe wat Maandag verkoop is was ‘n 1938 uitgawe van Action Comics No. 1 en wys Superman op die voorblad waar hy ‘n motor oplig.
Dit is oorspronklik vir 10 Amerikaanse sent verkoop.
Die strokiesprentboek is deur ‘n privaat verkoper aan ‘n privaat koper verkoop en nie een se naam is bekend nie.
Die transaksie is deur die veiling-webwerf ComicConnect.com bestuur.
Die vorige strokiesprentboek-rekord is verlede jaar opgestel toe $317 000 (R2,5 miljoen) vir dieselfde Action Comics No. 1 uitgawe betaal is.
Hierdie spesifieke strokiesprent het baie meer ingebring aangesien dit in ‘n baie beter toestand was.
- Sapa-AP