Suidoosterfees gaan propvol Kaapse drama wees
2010-11-30 09:41
Kaapstad - Der Fliegende Hollander, die bekendste opera van Richard Wagner, is een van die hoogtepunte op aanstaande jaar se Die Burger-Suidoosterfees.
Die fees word van 25 tot 30 Januarie by die Kunstekaap-teater in Kaapstad aangebied. Die program is gister by die Naspers-sentrum bekend gestel.
Kleiner produksies soos Kap’An, Dis!Place en HipHopKop pas vanjaar goed by die tema: Kaaps.
Besoekers kan verwag om uit hul velle verras te word. Vet pret en groot vermaak word vir fees beplan. By die program se bekendstelling gister het mense ’n voorsmakie van Dis!Place gekry en hulle was definitief in hul noppies met die vertoning.
Dr. Niel le Roux, uitvoerende hoof van die Suidoosterfees, het gesê die drama gaan baie groot wees hierdie jaar.
“Die fees op sy eie gaan beter as vorige feeste wees. Daar gaan ook ’n gospelkonsert by die fees gehou word omdat ons Kaapse mense so erg oor gospel is,” het hy gesê.
Die fees kry ook so ’n tikkie Indiese smaak. Ses Bollywood-flieks sal vertoon word danksy die Indiese hoëkommissariaat in Kaapstad.
“Ons het ’n uitnodiging gekry om in 2012 betrokke te raak by die Suidoosterfees. Ons het egter besluit om hierdie jaar betrokke te raak. Hoekom wag?” het Harjeet S. Sethi, ’n gesant van die Indiese hoëkommissariaat, gister aan Die Burger gesê.
Van die ander kunstenaars wat by die fees gaan optree, is Thandiswa Mzwai, een van Suid-Afrika se voorste Afrika-musiekkunstenaars, Marc Lottering en Mango Groove.
Volg Nuus24 op Twitter.