Stryd oor Avatar-draaiboek duur voort
2013-01-24 10:27
Los Angeles – ‘n Regter het Woensdag die regisseur James Cameron beveel om die draaiboek van Avatar aan prokureurs te oorhandig, na ‘n man beweer het dat hý die teks geskryf het waarop die lokettreffer gebaseer is.
Eric Ryder eis vergoeding van Cameron en sy produksiemaatskappy, Lightstorm Entertainment, en beweer dat die Oscar-benoemde rolprent van 2009 gebaseer is op ‘n storie wat hy geskryf het, getiteld K.R.Z. 2068.
Hy het Cameron in Desember 2011 gedagvaar en gesê hy het twee jaar lank aan sy storie gewerk.
Regter Alan Rosenfield het Woensdag beveel dat Cameron se prokureurs die draaiboek van die rolprent moet oorhandig.
“Ons moet versigtig en sensitief wees oor idees en inligting,” het die regter gesê.
Hy het egter ‘n versoek van Ryder se prokureurs geweier om Cameron en Jon Landau, die hoofbedryfsbeampte by Lightstorm Entertainment, se persoonlike kalenders te kry.
K. Andrew Kent, Ryder se prokureur, het ook bevestig dat hulle inligting van Cameron se rekenaars mag verkry.
Avatar het meer as $2,7 miljard (sowat R24,5 miljard) wêreldwyd verdien.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP