Streisand: 'Dis 'n skok!'
2009-08-22 10:23
Barbra Streisand herken nie haar “ouer” gesig wanneer sy in ‘n spieël kyk nie.
Die 67-jarige Hollywood-ster is elke keer geskok wanneer sy haar verouderde weerkaatsing sien, want sy voel steeds jonk, het sy laat hoor.
"Dis nou ‘n geheel ander probleem. Jy word ouer, en dis ‘n redelike skok,” het die aktrise gesê.
“Ek voel nog so jonk binne my. En is dit ek daai in die spieël? Wel, as jy dit nie sien nie is ek bly."
Die Funny Girl-ster het egter altyd geweet sy sou makliker met die kwessie van veroudering kan vrede maak as sommige van haar medesterre, want sy het nooit aan haarself gedink as mooi nie.
"Dis seker moeiliker om ouer te word as jy aan jouself dink as ‘n skoonheidskoningin. So ek is eintlik bevoorreg,” het sy aan Parade-tydskrif gesê.
“Om die waarheid te sê is ek gelukkiger as wat ek nog ooit was in my lewe. Ek het ‘n man wat vir my lief is, en ek het hierdie pragtige plekkie op die aarde."
Barbara sê herinneringe uit haar kinder- en tienderjare hou haar jonk.
"Daar’s ‘n deel van jou wat altyd ‘n kind bly, maak nie saak hoe volwasse, gesofistikeerd om moeg jy word nie. Ek was ‘n wilde kind. Ek is nie van die fyner dinge in die lewe geleer nie. "
- BANG Media International