Storm bars los oor foto van Whitney in kis
2012-02-23 15:00
Los Angeles – Die tydskrif National Enquirer is fel gekritiseer nadat 'n foto van die ontslape sangeres Whitney Houston op hul voorblad gepubliseer is, het Mirror.co.uk op hul webwerf berig.
Dié foto is glo tydens die privaatbegrafnis, wat Houston se familie vir haar gehou het, geneem en is vandeesweek op die tydskrif se voorblad geplaas.
Op die foto lê Houston in die kis, geklee in haar gunsteling pers rok met 'n diamant-borsspeld en oorbelle.
Daar word geglo die foto is by die Whigham-lykhuis in Newark, New Jersey geneem waar familielede Vrydagaand bymekargekom het.
Die tydskrif maak geen melding van wie die foto geneem het nie, maar beweer die sangeres is in juwele wat $500 000 (sowat R3,8 miljoen) werd is en goue skoene begrawe.
Die plasing van die foto het 'n storm op die sosiale netwerke Facebook en Twitter ontketen.
Houston is op 11 Februarie in ‘n hotel in Beverly Hills, Kalifornië dood gevind.
'n Gedenkdiens is verlede Saterdag vir die sangeres in die New Hope-Baptistekerk in Newark gehou. Sy is Sondag op 'n familie-erf in New Jersey langs haar pa, John Russell Houston, wat in 2003 dood is, begrawe.
Die National Enquirer het in 1977 'n foto van die sanger Elvis Presley in sy kis gepubliseer.
– Volg Nuus24 op Twitter.