Stories vir SA-mark moet ontwikkel word
2010-07-28 09:21
Die Burger
Durban - Suid-Afrikaners wil nie Suid-Afrikaanse rolprente sien nie.
Só het Clarence Hamilton, hoof van produksie en ontwikkeling van die Nasionale Rolprent- en Videostigting (NFVF), tydens ’n paneelbespreking op die 31ste internasionale rolprentfees in Durban gesê.
Die bespreking heet “The NFVF defines its Role as a National Custodian of Film”.
“Plaaslike prente verdien minder as 0,8% van die algehele loketinkomste per jaar. As jy in ag neem dat die deursnit-rolprent tussen R7 miljoen en R8 miljoen kos om te vervaardig en ’n prent verdien minder as R1 miljoen by die loket, kan ons nie van ’n volhoubare bedryf praat nie.” Hy sê slegs Leon Schuster se prente en Afrikaanse tienerkomedies vaar goed by die plaaslike loket.
Die NFVF hoop om die gemiddeld van tien prente per jaar binne die volgende dekade na 35 te vermeerder. Dit is dan dieselfde vlak as in 1994 toe daar groter regeringsubsidies was. Voorts wil hulle bywoning ook aanwakker en hoop om dit te verdubbel in die volgende paar jaar.
Hamilton meen die probleem lê veral by die draaiboeke. “Stories wat by Suid-Afrikaners aanklank vind, moet gevind en ontwikkel word.”
Daarom het die NFVF, wat in 1997 gestig is om die groei en ontwikkeling van die plaaslike bedryf aan te help, die Sebida Spark-program in 2007 begin.
“Ons begin binnekort met die derde aflewering daarvan. Skrywers wat interessante en werkbare idees voorlê, maar nog nie vollengte-draaiboeke kan ontwikkel nie, word hier gehelp.”
Die program behels slypskole en werksessies in byvoorbeeld karakterbou, dialoog, die ontwikkeling van plot en sub-plot. Daar is ook ’n meesterprogram. Die kandidate moet egter reeds tersiêre opleiding hê, aan ’n rolprentinstansie gestudeer het, of in die bedryf werksaam wees.
Hamilton ondervind dat skrywers veral gedruk moet word om sterk stelling in te neem of om ’n andersoortige argument te stel. “Ons Grondwet ondersteun die vryheid van uitdrukking, tog vind ons nie die volle uitleef daarvan in ons draaiboeke nie.”
Sy woorde is beaam deur Ryan Haidarian, hoof van nuwe projekte van die NFVF. “Ons moet ’n posisie bereik waar ons eerder om vergifnis moet vra as om toestemming.”
Een van die rolprente, wat tans ontwikkel word deur die NFVF is Othello Burning. “Dit is ’n komiese rolprent in Zoeloe en handel oor ’n klompie swart branderplankryers. Dit speel in Durban af.”
Haidarian vervolg dat reeds die afgelope vier jaar aan die prent gewerk word. “Die rolprentmakers het na ons gekom met ’n draaiboek wat hulle gedink het oor ses maande verfilm kan word. Die werklikheid is dat rolprente veel langer neem om die silwerdoek te haal.”
Vanjaar neem 43 jong rolprentmakers van 20 Afrika-lande deel aan die derde Talent Campus Durban. Dit behels ’n intense opleidingsprogram van slypskole en seminare onder leiding van plaaslike en internasionale rolprentlui.
Dit word in samewerking met die Berlinale Talent Campus aangebied wat die opleidingskomponent van die Berlynse rolprentfees is.
Die Talent Campus Durban toon reeds sukses – vorige studente se prente draai op die fees. Caroline Kamya van Uganda se Imani draai en Jonathan Boynton se Jozi Kings het sy première vanjaar op die fees.
Daarby het ’n vorige student, Jessy Chisi van Zambië, vanjaar haar projek Women on Hold by die FilmMart voorgelê.
Plaaslike hebbelikhede in dié films tref
Twee Suid-Afrikaanse rolprente trek die aandag op die Durbanse internasionale filmfees: Paradise Stop en The Battle for Johannesburg.
Alles loop lelik skeef vir Potso, ’n speurder in ’n dorpie in die heerlike Suid-Afrikaanse komedie Paradise Stop van Jann Turner.
Dit is die skeppers van die wegholtreffer White Wedding se tweede prent en gaan gewis ook gehore oorrompel. Rapulana Seiphemo en Kenneth Nkosi speel weer die hoofrolle en lewer ratse komedie met uithaler-tydsberekening.
Potso (Seiphemo) en Ben (Nkosi) is vriende, maar Potso wis nie dat Ben ’n misdadiger is nie; hy is betrokke by die kaping van groot vragmotors. ’n Kaping loop skeef en die arme Potso moet uithelp. Die komedie is skerp met gereelde dwarsklappe na Suid-Afrikaanse hebbelikhede soos ’n sekere jeugleier se stommighede, vetkat-burgemeesters, polisiemanne wat “verlei” kan word, en so meer.
Dit is aweregse komedie wat op die leeu se snorbaard dans.
Terloop, dit is pas bekend dat White Wedding vroeg September in Los Angeles en New York op die kringloop gaan draai.
Van ’n gehuggie in Paradise Stop na ’n wêreldstad. Die dokumentêre rolprentmakers Rehad Desai en Darryl Els se The Battle for Johannesburg toon hoe eiendomsontwikkelaars die stad probeer omskep in ’n wêreldstad ter voorbereiding van die Wêreldbeker-sokkertoernooi.
Die ontwikkelaars se ingrypings het ’n radikale uitwerking op die stad se armste inwoners. Diegene wat woon in die sogenaamde gekaapte geboue, waar geen elektrisiteit of water is nie, is aan die krottemelkers uitgelewer.
Desai praat met ontwikkelaars, verteenwoordigers van die stadsraad en inwoners, en vergesel die polisie op klopjagte saam met die Rooi Miere, die “skoonmakers” wat mense uitsit op straat. Ironies genoeg woon die werkers (Rooi Miere) ook in sulke krotte in die stad.
Die moderne stad wat die ontwikkelaars in hul verbeelding sien, strook nie met Desai se bevindinge nie. Die prent is oor drie jaar ontwikkel en toon dat daar dringend herbesin moet word. Die “nuwe” Johannesburg se eerste “boublokke” is sy armste inwoners.
Hierdie rolprent word in Augustus op die Encouters-filmfees in Kaapstad gewys.
- Die Burger