Stop pornografie, sê Christene oor TopTV
2012-01-22 10:08
Johannesburg – Terwyl menseregtegroepe meen spraakvryheid beteken TopTV is daarop geregtig om pornografiese kanale op sy satelliet-betaaltelevisiedienste uit te saai, het Christen-groepe heftig hierop gereageer.
Pornografie is net so verslawend en vernietigend soos dwelms, het Taryn Hodgson van die Christian Action Network in haar voorlegging by die gemeenskapsverhore van die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) gesê.
Okosa moet teen einde vandeesmaand besluit of TopTV drie hardgebakte 24 uur-pornografiekanale mag uitsaai.
“Dwelms is onwettig en pornografie behoort ook onwettig te wees,” het sy gesê.
Volgens haar is spraakvryheid nie die enigste grondwetlike reg hier ter sprake nie.
“Pornografie maak inbreuk op regte soos menswaardigheid, gelykheid en haatspraak. Vroue word onder andere in pornografie verneder en verlaag tot seksvoorwerpe,” sê sy.
Daarteenoor sê die Freedom of Expression Institute pornografiese materiaal is reeds taamlik wyd beskikbaar by sekswinkels en op die internet. Die FXI meen intekenare van betaaltelevisiedienste moet self kan besluit vir watter beeldmateriaal hulle wil betaal.
Luidens ’n skriftelike voorlegging van die FXI moet Okosa eerder fokus op streng meganismes wat TopTV moet instel om te verseker dat net volwassenes toegang het tot die kanale en dat die regulasies van die rolprent-en-publikasieraad nagekom word.
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport