Stones se Watts wil aanhou rol
2009-09-03 11:25
Los Angeles – Tromspeler vir die Rolling Stones, Charlie Watts, het nié die groep gelos nie.
Paniek het onder aanhangers ontstaan toe gerugte op die internet versprei het dat Watts die Rolling Stones gaan verlaat.
“Teenstrydig met die opgemaakte storie wat op ‘n klein musiekwebblad in Australië verskyn het, het Charlie Watts nié die Rolling Stones verlaat nie” het Fran Curtis, woordvoerder vir die Stones, in ‘n verklaring gesê.
Volgens die webblad (www.undercover.com.au) sal Watts nooit weer saam met die Stones toer of musiek opneem nie.
Dit het bygevoeg dat die groep hom wil vervang met New York dromspeler, Charlie Drayton, wat al in die verlede met Keith Richards op soloprojekte gespeel het.
Watts het deel geword van die Rolling Stones in 1963. Voor dit was hy in die reklamebedryf.
Die Rolling Stones het sedert 2005 se “A Bigger Bang” toer, nog nie weer ‘n album uitgereik nie.
Dié ou rockers se toekomsplanne is onbekend.
- Reuters