Steve se skelmpie sit sonder werk
2009-08-16 12:00
Gavin Prins
Johannesburg - Christina Bergh, Steve Hofmeyr se minnares van 14 jaar, sê sy het haar werk sonder rede verloor nadat sy die bestaan van haar verhouding met Hofmeyr uitgelap het.
Dié eiendomsagent van Kaapstad wil haar voormalige base nou voor die arbeidshof daag.
Bergh het drie weke gelede onthullings oor haar verhouding met Hofmeyr aan Huisgenoot gedoen. Hofmeyr het alles teenoor Rapport erken en gesê “dit was net seks”.
Nadat sy haar Steve-bom laat bars het, het Bergh ’n week se verlof geneem by die bekende eiendomsaak in Kaapstad waar sy die hoof van die verhuringsafdeling was.
Sy wou “laag lê” en het by haar familie in Oos-Londen gaan kuier.
Bergh het in dié tyd kwaai deurgeloop onder die giftonge van veral vroulike aanhangers van Hofmeyr.
“Toe ek terug in die Kaap weer by my werk aankom, is daar vir my gesê dat hulle nie verder van my dienste gebruik sal maak nie en dat hulle die verhuringsafdeling wil toemaak.
“Vir my was dit ’n dolk in die hart omdat ek dit glad nie verwag het nie.
“Maar hul redes strook nie mooi met wat daar aan die gebeur is nie, want die afdeling gaan dan nog voort,” het Bergh aan Rapport gesê.
Dis om dié rede dat sy die saak verder gaan voer. Sy was ’n week werkloos, maar het intussen al in ’n nuwe pos elders in die eiendomsbedryf begin werk.
“Ek glo wanneer een deur toegaan, ’n ander een vir jou oopgaan. Emosioneel is daar skade berokken, maar die Here het reeds so baie in my binneste verander en skoongewas, ek kan net nog witter anderkant uitkom,” sê Bergh.
Sy gaan voort met haar planne om ’n boek te skryf. “Die boek gaan nie oor Steve nie. Dit gaan oor my lewe. Steve was ’n klein deeltjie in my lewe, hy was nie my hele lewe nie.
- Rapport