Steve se advies aan Joost
2009-11-05 10:15
Philip de Bruin
Kaapstad- “Jammer, my ou maat. Ek weet waardeur julle gaan. Bel my as jou hart k—k vreet. Hy sal.”
Dié vertroosting het die sanger-akteur Steve Hofmeyr gister aan die oud-Springbok Joost van der Westhuizen gegee ná Van der Westhuizen se erkenning dat dit inderdaad hy in ’n omstrede seksvideo is.
Hofmeyr het vroeër vanjaar dieselfde paadjie gestap met onthullings oor sy verhouding met me. Janine van der Vyver van Pretoria. Sy vrou, Natasha Sutherland, het hom uiteindelik verlaat en hulle is besig om te skei.
Die res van Hofmeyr se raad aan Van der Westhuizen is maar neerdrukkend.
“Sien jouself gelukkig as Amor (Vittone, Van der Westhuizen se vrou) by jou bly. Van hier af aan gaan die media jou en Amor geen tyd en emosionele spasie gun om te besin nie.
“Die bloeddorstige publiek gaan verskonings eis, terwyl jy dit slegs aan jou vrou skuld.
“Mans wat moeg is vir masturbasie, sal jou vanuit die morele hoë grond teiken as immoreel en onbybels. Moenie dat hierdie soort Christenvoorbeelde tussen jou en God kom staan nie,” skryf Hofmeyr op sy webwerf.
“Jy sal nie meer onthou word vir die jare wat jy jou liggaam en siel opgeoffer het om jou land op die sportveld te dien as een van die grootste Springbokke van alle tye nie. Geheues is kort. Kategoriefoute legio.
“Van hier af aan sal jy nooit weer simpatie geniet as slagoffer nie. Jy is die Antichris.”
- Die Burger