Steve ryloop teen plaasmoorde
2011-02-18 07:03
Johannesburg – Na sy groot Bono-bohaai ryloop Steve Hofmeyr en ’n omroeper van ’n groot streekradiostasie vandag ná blitsige beplanning van Bloemfontein na Kaapstad om geld vir die bekamping van plaasmoorde in te samel.
En om U2 se konsert te gaan kyk, as Hofmeyr kan kaartjies kry...
“Laai my op, dan sing ek Die Bloubul gratis,” het Hofmeyr Donderdag aan Volksblad gesê.
Hul rylopery volg nadat Tim Thabethe, OFM-omroeper, Donderdagoggend op sy program Hofmeyr se “publisiteitsfoefie” – om sy U2-kaartjies in die Jukskeirivier te gooi (uit protes teen Bono se Kill the Boer-uitspraak) – bevraagteken het.
Thabethe het gesê die opgeskeurde kaartjies was nie regtes nie.
Hy meen Hofmeyr het die fokus nie op plaasmoorde geplaas nie en eerder ’n negatiewe boodskap uitgestuur.
Die ryloop-plan het ontstaan toe ’n luisteraar inbel en Thabethe uitdaag om Kaapstad toe te ryloop om die konsert te gaan bywoon.
“Die man het R10 per kilometer beloof,” het Thabethe gesê.
Toe breek chaos in die ateljee uit. “Honderde mense het ingebel en ’n saamry-geleentheid aangebied. Baie het geld beloof.”
Een luisteraar het voorgestel Hofmeyr moet ook deelneem.
Volgens Thabethe het OFM Steve omstreeks 12:00 opgespoor en teen 13:00 het hy bevestig hy gooi saam duim.
Die twee gaan geld vir Agri-Securitas, ’n organisasie vir landelike beveiliging, insamel. Thabethe sê meer as R50 000 is al beloof en die beloftes bly instroom.
Hofmeyr het aan Volksblad gesê hy en Thabethe wil die aandag op plaasmoorde in Suid-Afrika vestig. Elkeen wat hulle oplaai, dra outomaties tot hul veldtog teen plaasmoorde by.
Volgens Thabethe gaan hulle met die N1 langs ryloop. Hulle gaan by al die dorpe langs die pad afklim en ’n nuwe saamrygeleentheid soek, sodat hulle saam met soveel moontlik mense kan ry.
Die twee spring om 08:00 by OFM se ateljee in Nelson Mandela-rylaan weg. Hul rylopery kan op Twitter gevolg word.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad