Steve neem oor by Casper
2010-03-02 09:12
Philip de Bruin
Kaapstad - Die sanger Steve Hofmeyr het Saterdagaand tydens opnames van twee programme in die jongste Supersterre-reeks vir SABC2 as beoordelaar opgetree in die plek van die komediant Casper de Vries.
Dit kom nadat De Vries woedend was tydens ’n vroeëre opname toe twee ander beoordelaars, die sangers Theuns Jordaan (’n vaste beoordelaar) en Nicholis Louw (’n gasbeoordelaar) hul aanvanklike stem vir ’n sanger omgekeer en vir ’n ander sanger gestem het – sonder om De Vries, ook ’n vaste beoordelaar, daarin te ken.
Die sangeres Patricia Lewis, vervaardiger van die reeks, het gister gesê die onmin met De Vries is bygelê.
“Die show moet aangaan. Dit is maar hoe dit werk met werklikheidsreekse. Wat die aand tydens Casper se uitbarsting gebeur het, sal later volledig vir die kykers gewys word.
“Intussen het Steve gisteraand (Saterdagaand) tydens die twee opnames as vaste beoordelaar opgetree saam met die ander twee beoordelaars, Theuns en Shaleen Surtie-Richards.
“Chris Chameleon was een gasbeoordelaar en Fritz Klaaste (RSG-aanbieder) tydens die tweede opname.
“Ek glo Casper sal weer in latere opnames beoordeel.
“Intussen sal ons van Steve en Nicholis en wie ook al as vaste beoordelaars gebruik maak. Hier by Supersterre glo ons aan deursigtigheid.”
Wat min kykers weet, is dat die drie vaste en een gasbeoordelaar net die “gesig” van die beoordelaars is. Drie beoordelaars stem agter die skerms.
Dit is verteenwoordigers van onderskeidelik die hoofborg, die platemaatskappy Sony, die vervaardiger en SABC2.
“In die geval waarin Casper hom vererg het... (het) Theuns en Nicholis besluit om hul stemme te wysig.
“Dit het Casper baie erg ontstel. Maar dit is hoe Supersterre maar werk. Niks word weggesteek nie,” het Lewis gesê.
- Beeld