Sterre groet Oprah ná kwarteeu op TV
2011-05-19 08:17
Chicago – Die einde van ’n kwarteeu van die Oprah Winfrey Show op TV-skerms wêreldwyd is Dinsdag gevier tydens ’n spesiale vertoning vir die kletskoningin.
Bekendes was deel van die uitsending – “Surprise Oprah! A Farewell Spectacular” – wat Winfrey op die stel kom verras het.
Onder hulle was Beyoncé, Madonna, Aretha Franklin, Tom Cruise en Michael Jordan. Hulle het Winfrey vereer vir haar pogings wêreldwyd om opvoeding te bevorder en armoede te beveg.
“Sy is ’n selfgeleerde vrou wat al vir 25 jaar die wêreld se voorste in haar veld is – en sy skop steeds gat!” het Madonna aan ’n gehoor van sowat 13 000 gesê.
Winfrey is nie vooraf ingelig oor die gaste wat haar vereer het nie. Dié spesiale vertoning word op 23 en 24 Mei uitgesaai, waarna die allerlaaste episode van die Oprah Winfrey Show op 25 Mei uitgesaai word.
Tom Hanks het gesê Winfrey se program het verrassing in ’n kuns verander.
Madonna het gesê dis nie ’n geheim dat Winfrey miljoene mense inspireer nie. “En ek is een van hulle. Sy veg vir iets waarin sy glo, selfs al maak dit haar ongewild.”
Franklin en Beyoncé het albei vir ’n stomgeslaande Winfrey gesing. Beyoncé het gesê danksy Winfrey het “vroue van oral gegradueer tot ’n nuwe vlak van begrip van wat ons is, wie ons is en wie ons kan wees”.
Die sanger Usher het ’n besielende geestelike treffer gesing en die bekendes het saam met ’n aangedane Oprah gesing en hande geklap toe sy opmerk: “Ek kan die liefde voel, en ek sê dankie daarvoor.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger