Star Wars-grimeerkunstenaar sterf
2013-02-07 13:00
Los Angeles – Stuart Freeborn, ‘n baanbreker-grimeerkunstenaar, wat wesens soos Yoda en Chewbacca vir die Star Wars-films geskep het, is in die ouderdom van 98 oorlede.
LucasFilm het Woensdag die nuus bevestig.
George Lucas, regisseur van die Star Wars-films, het in ‘n verklaring gesê dat Freeborn al klaar ‘n legende was toe hy aan Star Wars begin werk het.
Freeborn se kleindogter, Michelle Freeborn, het gesê dat hy Dinsdag in Londen dood is as gevolg van 'n kombinasie van kwale as gevolg van sy ouderdom. Sy het haar oupa as ‘n inspirasie beskryf.
“Hy het die lewe en die wonderlike wêreld waarin ons bly ten volle geniet,” het Michelle gesê.
Freeborn is veral bekend vir die Star Wars-rolprente, maar hy was ook betrokke by ander groot films soos Stanley Kubrick se 2001: A Space Odyssey.
Sy vrou, Kay, is in 2012 oorlede. Al drie sy seuns, Roger, Ray en Graham, het ook voor hom gesterf.
Freeborn word oorleef deur agt kleinkinders en sy agterkleinkinders.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP