Spielberg maak reeks oor 9/11
2010-01-15 22:50
Los Angeles – Die Oscar-bekroonde rolprentvervaardiger Steven Spielberg beplan om ‘n televisie dokumentêr te maak oor die herbou van New York se World Trade Centre wat in 2001 deur terreuraanvalle verwoes is.
Die Wetenskap-kanaal het Donderdag bekend gemaak dat Spielberg die reeks, Rebuilding Ground Zero, sal vervaardig. Dit gaan uit ses dele bestaan, en sal teen 2011 vertoon word.
Die reeks sal nie net handel oor die herbou en ingenieurswerk van die 541 m hoë gebou nie, maar sal ook diegene vereer wat hul lewens in die aanval verloor het.
Volgens die Wetenskap-kanaal gaan die reeks van drie-dimensionele beelde asook tegnologiese metodes gebruik maak, om die storie te vertel.
Die herbou van die World Trade Centre is al ‘n paar keer vertraag weens regstwiste met versekeraars oor die ontwerp en sekuriteit, asook die versuiming om huurders te lok.
Sowat 2 752 mense het op 11 September 2001 gesterf, toe kapers met twee vliegtuie in die World Trade Centre se Twin Towers in New York vasgevlieg het.
Die herbou van die Freedom Tower het laat in 2006 begin, en sal teen 2013 voltooi wees.
- Reuters