Sosiale netwerke verander ook TV-kyk
2010-07-19 08:43
Johannesburg - Daar was ’n tyd toe ’n mens op jou eie of saam met familie en vriende TV gekyk het.
En toe die kommentaar wat op die program of die episode van die TV-reeks waarna jy gekyk het, beperk was tot die mense wat saam met jou in die sitkamer gesit het.
Met die koms van sosiale netwerke en maklike toegang tot die internet het dít byna heeltemal verander.
Want nou, selfs al is jy stoksielalleen in jou sitkamertjie, hoef jy nie meer alleen na jou gunsteling-programme te kyk nie.
Met die hulp van ’n sosiale netwerk kan jy heerlik klets of kommentaar lewer terwyl jy daar voor die kassie sit.
Jy kan sien wat jou pelle dink, reageer daarop en sien wat hulle dink van jou kommentaar.
Dis ’n hele nuwe wêreld wat oopgegaan het vir die TV-kyker.
En ook vir TV-netwerke en vervaardigers van programme.
Pleks van om dae lank – of selfs weke – te wag op terugvoering op ’n spesifieke program, kan hulle dit nou onmiddellik sien.
’n Besliste voordeel vir almal. Of hoe?
In Suid-Afrika is ons gelukkig genoeg om nie in verskillende tydsones te leef nie en ons sien dus almal op dieselfde tydstip wat uitgesaai word.
Die Amerikaners is helaas nie so gelukkig nie.
Kykers oor dié land heen sien nie tegelykertyd wat in die episode van ’n reeks gebeur nie.
Die drie uur lange tydsverskil tussen die Amerikaanse oos- en weskus het byvoorbeeld met die slotepisode van ’n uiters gewilde reeks soos Lost veroorsaak dat kykers aan die ooskus besluit het om eerder nie op die internet te kuier in die drie uur wat hulle moes wag om ook dié episode te sien nie.
Wie wil dan hê al hul pret moet bederf word deur die opgewonde aanlyn-klets van medekykers in ’n ander tydsone?
Deel van die lekker van week ná week kyk na so ’n reeks is mos juis om te sien hoe die raaisels ontrafel word sónder dat jy vooraf weet presies hoe dit gaan gebeur.
En wie wil weet wie gaan ’n reeks soos Survivor of Idols wen voordat jy gesien het hóé die wenner daarby uitgekom het en sy of haar mededingers uitgeskakel het?
Die meeste van ons wil sit en naelskou en wag op daardie onthulling aan die einde wat ons óf kwaad óf opgewonde gaan maak.
(Ons praat nou nie hier van kykers wat vooraf op die internet gaan snuffel na inligting oor oorsese reekse wat al die pret bederf nie!)
Idols het Sondagaand weer op M-Net begin.
En daarmee saam die geklets op Facebook of Twitter oor watter deelnemers aan die oudisies potensiaal het of skreeusnaaks was.
Ons het reeds gesien hoe veral hierdie twee sosiale netwerke met ’n reeks soos Survivor SA: Santa Carolina vroeër vanjaar op M-Net hope aanlyn-pret veroorsaak het.
Die kanse dat dit met Idols en ander werklikheidsreekse dieselfde uitwerking gaan hê, is baie goed.
So, sit solank reg met jou skootrekenaar of selfoon en word deel van die nuwe kultuur wat besig is om die kyk van TV te ontwikkel.
- Beeld