Skrywer Charles Malan sterf
2011-08-25 07:00
Pretoria – Die akademikus en skrywer Charles Malan (66) is Woensdagmiddag in die Eugène Marais-hospitaal in Pretoria dood.
Hy is twee weke gelede met nierversaking en longontsteking opgeneem.
Hy was sedertdien in ’n bedenklike toestand in die waakeenheid waar hy weens orgaanversaking behandel is en ook ’n hartpasaangeër gekry het.
Prof. Fransjohan Pretorius van die Universiteit van Pretoria (UP) het gesê Malan se afsterwe is ’n groot verlies vir die Afrikaanse letterkunde, kultuur en al die mense na aan hom.
“Hy was ’n stryder wat nou mag gaan rus.”
Malan was onder meer vroeër buitengewone professor by die departemente inligtingkunde en Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria.
Hy was benewens skrywer, akademikus en navorsingskonsultant die koördineerder van Vrye Woord, ’n groepering van hoofsaaklik Afrikaanse skrywers, akademici en uitgewers.
Malan laat sy vrou, Marietjie Coetzee-Malan, en drie kinders agter.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld