Skoonheid nie op kortlys vir Oscar-toekennings
2012-01-19 15:01
Kaapstad – Die Suid-Afrikaanse film Skoonheid is nie onder die nege films wat op die kortlys geplaas is vir 'n Oscar-toekenning vir die beste rolprent in 'n ander taal nie.
Die bekroonde Iranese film A Separation het wel die lys gemaak en gaan oor 'n paartjie wat worstel met die besluit oor of hulle hul tuisland moet verlaat.
Films vanaf Duitsland, Denemarke, Kanada en Morocco het ook die kortlys gemaak wat deur die twee komitees van die Academy of Motion Picture Arts and Sciences gekies is.
Skoonheid, met Oliver Hermanus as regisseur, het verlede jaar die Queer Palm-prys by die internasionale Cannes-fliekfees in Frankryk losgeslaan.
Die film handel oor ‘n middeljarige Suid-Afrikaanse man wat sukkel met sy latente homoseksualiteit.
Suid-Afrika het in 2005 vir Gavin Hood se film Tsotsi 'n Oscar-toekenning vir die beste rolprent in 'n ander taal gewen.
Die nominasies vir die Oscar-toekennings sal op 24 Januarie bekendgemaak word. Die seremonie sal op 26 Februarie in Hollywood plaasvind.
– Channel24.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters