Skok oor TopTV se nuwe porno-planne
2013-01-14 08:58
Johannesburg – On Digital Media (ODM), wat TopTV besit, het voortgegaan met ‘n tweede aansoek om drie pornografiese televisiekanale uit te saai.
Die aansoek kom ‘n jaar ná die Suid-Afrikaanse Onafhanklike Kommunikasie-owerheid (Okosa) ODM se vorige aansoek geweier het.
TopTV is sedert 31 Oktober 2012 in ‘n proses van sakeredding. Die uitsaaier glo dat sulke uitsendings die onderneming sal kan help met ‘n volhoubare toekoms.
Die tweede aansoek is in Desember ingedien, het Paseka Maleka, woordvoerder van Okosa, aan Die Burger gesê.
Errol Naidoo, direkteur van die Instituut van Familiebeleid (FIP), het in samewerking met verskeie Christelike organisasies sy ontevredenheid oor die aansoek uitgespreek.
Naidoo het in ‘n verklaring gesê hy is geskok dat ODM met die aansoek sal voortgaan, “veral na die publiek se sterk teenkanting teen hul vorige onsuksesvolle pogings.”
Volgens Naidoo doen die FPI en al sy vennote ‘n beroep op mense om TopTV te boikot.
– Volg Nuus24 op Twitter