Sjef: Jackson se laaste ure
2009-07-29 12:34
Los Angeles - Michael Jackson se persoonlike sjef, Kai Chase, het tydens ‘n onderhoud meer oor dié superster se laaste dag, asook die rol van Jackson se persoonlike dokter, Dr. Conrad Murray, wat nou die fokuspunt van ‘n strafbare manslagsaak is, gesels.
Volgens Chase het sy op die dag van Jackson se dood agtergekom dat iets nie pluis was nie, toe Murray nie die superster se ontbyt, wat hy elke dag geëet het, in die kombuis kom haal het nie.
Chase, ‘n professionele sjef wat Jackson aangestel het om hom te help om by ‘n gesonde eetplan te bly, het tydens ‘n onderhoud met die nuusagentskap Associated Press gesê die dokter was elke dag by Jackson.
“Hy (Murray) het normaalweg rondom 9:00-9:30 opgedaag en na Jackson se kamer gegaan. Soms het ek hom nie weer gesien voor ek laataande huis toe is nie, en ek het verstaan hy bly oornag”, het Chase gesê.
Volgens Chase het die dokter party oggende Jackson se kamer met suurstoftenks verlaat.
Ná Murray op Jackson se sterfdag nie sy ontbyt kom haal het nie, het Chase sy Middagete begin voorberei.
“Om en by 12:05 het Murray by die trappe afgehardloop en geskreeu ‘gaan kry vir Prince’ (Jackson se oudste seun). Die atmosfeer in die huis het dadelik verander en ek het die kinders sien huil terwyl paramedici by die trappe opgehardloop het”, het Chase gesê.
Teen 13:30 het sekuriteitsbeamptes gesê Jackson word hospitaal toe geneem en vir Chase en Jackson se ander werkers gevra om die huis te verlaat .
- Sapa