Vuiste klap by Kaap-model se partytjie
2010-12-28 09:01
Kaapstad - Die model Lee-Ann Liebenberg het ná ’n lang kuiersessie in Kampsbaai waar sy en vriende sowat R75 000 se Franse sjampanje gedrink het, beweer sy is seksueel aangerand.
Dié voorval het Sondag plaasgevind, sowat twee maande nadat Liebenberg die lewe aan haar eersteling geskenk het.
Liebenberg, haar verloofde, die polo-speler Nicky van der Walt en sowat 40 vriende het van vroegaand by Café Caprice gekuier.
Verneder en verleë
Van der Walt het na bewering omstreeks 23:00 met die beweerde aanrander handgemeen geraak, waarna die groep gevra is om die restaurant te verlaat. Liebenberg het dieselfde aand op Twitter geskryf sy is aangerand.
Haar agent, Andrew Farr, kon aanvanklik nie enige van dié bewerings bevestig nie.
Dié deuntjie is later verander. “Iemand het op ’n onbehoorlike manier aan haar gevat. Sy voel verneder en verleë,” het Farr gesê.
Caprice se hoofbestuurder, Michael Mouneimne, het egter gesê Liebenberg het “net ’n bohaai oor niks opgeskop en dat sy aandag soek”.
“Sy is g’n aangerand nie. ’n Man (19) het per ongeluk in die stampvol plek aan haar gestamp en sy het gemaak of hy haar aangerand het,” het Mouneimne gesê.
‘Was lekker gekuier’
“Hulle was dronk en het mal gegaan. Hulle het mekaar selfs met die sjampanje bespuit.”
Hierna het Van der Walt toe glo opgespring en die 19-jarige geslaan.
Dis eers nadat ’n vriend van die paartjie Mouneimne met vuiste bygedam het, dat hulle gevra is om hul rekening van R60 000 vir Veuve Clicquot, Dom Perignon en Moët te vereffen en die plek te verlaat, het hy gesê.
Hierna is verskoning gevra en die groep is weer net ná middernag in die plek toegelaat, waarna nóg R15 000 se sjampanje bestel is, het hy gesê.
Farr het gesê die paartjie gaan nie ’n klag van seksuele aanranding aanhangig maak nie en het ook ontken dat enigeen van hulle dronk was.
Nog ’n ooggetuie het die voorval bevestig en gesê hulle “was lekker gekuier”.
-
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger