Sindi kry nog ’n kans in Idols ná min stemme
2010-10-06 09:19
Johannesburg – Die Idols-beoordelaars het Maandagaand hul enigste lewensboei gebruik om Sindi Nene (22) van Durban te red.
Sy het tydens Maandag se program die minste stemme gekry en sou haar tassies moes pak as dit nie was vir die beoordelaars Randall Abrahams, Mara Louw en Gareth Cliff nie.
Adeline Mocke het die tweede minste stemme ontvang.
Abrahams het vir Nene, wat pas die liedjie I Drove All Night van Cindy Lauper gesing het, gesê daar is slegte nuus.
“Die slegte nuus is dat as iemand vanaand gered word, moet twee mense volgende week huis toe gaan. Die goeie nuus is dat Sindi nie vanaand huis toe gaan nie,” het Cliff gesê.
Volgens hom het die beoordelaars gekies om Sindi te red omdat sy “iets spesiaals” het. “Siende dat ons net hierdie een keer iemand kan red, hoop ek haar bewonderaars sal volgende week stem, want daar is nie weer ’n kans nie. Volgende week is dit klaarpraat.”
Sindi het gesê sy is baie bly dat sy gered is.
“Terselfdertyd is ek geskok dat ek die minste stemme gekry het. Ek het dus nogal gemengde gevoelens.
“Ek het geleer dat dit nie saak maak hoe hard jy werk nie, jy kan nog steeds uitgestem word. Daarom het ek besluit dat ek myself net gaan geniet,” het sy bygevoeg.
- Die Burger