Simon kry gesogte toekenning
2010-03-27 04:56
Los Angeles – Die onbeskofte beoordelaar van American Idol, Simon Cowell, sal ‘n internasionale Emmy-toekenning ontvang omdat hy “televisie en musiek in die 21ste eeu vir ewig verander het”.
Cowell (50) is meestal bekend vir sy streng kritiek wat hy op programme soos American Idol en X-Factor uitdeel.
Maar hy is egter ‘n gesoute musiekkenner wat onder andere die loopbane van Il Divo, Susan Boyle, West Life en die Spice Girls begin het. Cowell besit ook sy eie platemaatskappy.
Volgens Bruce Paisner, van die International Academy of Television Arts and Sciences, is Simon Cowell nie net vermaaklik nie, maar ook ‘n goeie entrepreneur.
“Hy het internasionaal vir hom ‘n naam opgebou en so die gesig van televisie oor die hele wêreld verander.”
Na bewering was Cowell heel in sy skik met hierdie groot eer. “Ek is baie bly en ook gelukkig om te kan doen waarvan ek hou,” het hy gesê.
Vorige wenners van hierdie gesogte prys sluit Steven Spielberg, Oprah Winfrey en Al Gore in.
- Reuters