Sexy model se pastoor-pa bekommerd oor haar
2012-06-10 09:35
Kaapstad – Die Namibiese model wat verlede week menigte skindertonge in Hollywood laat klap het toe sy en die Maroon 5-ster Adam Levine tydens 'n passievolle omhelsing afgeneem is, se ouers sê hulle is bekommerd oor haar en erken hulle "bid baie vir haar".
Die 23-jarige Behati Prinsloo, 'n Victoria's Secret-model, se ouers wat in Namibië woon, sê hulle mis hul enigste dogter wie se internasionale modelloopbaan nou vlerke gekry het.
Foto's van Prinsloo en Levine wat mekaar tydens 'n troupartytjie in Hawaii soen, het vandeesweek uitgelek.
Levine het 'n reputasie as 'n rokjagter en het twee maande gelede sy verhouding met Anne Vyalitsyna, glo Prinsloo se vriendin en Victoria's Secret-model, beëindig.
Prinsloo se pa, Boet, het gesê sy het hulle "sowat 'n maand gelede" van Levine vertel.
"Ons het nie eers geweet wat Maroon 5 was nie," het hy gesê.
Oor sy dogter se loopbaankeuse het hy gesê om 'n kind, wat deur God geskenk is, te hê is 'n groot verantwoordelikheid.
"Ons het ons bes probeer om Bybelse beginsels by haar aan te wakker, maar die omgewing waarin sy haar nou bevind is nie altyd goed vir 'n kind wat Christelik grootgemaak is nie," het Boet, 'n pastoor van die AGS-gemeente in Grootvlei, Namibië, gesê.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter