Sexpo-reklame laat menigte bloos
2009-09-21 20:27
Johannesburg - Die Gesagsowerheid vir Reklamestandaarde (ASA) het 'n stokkie voor die seksualiteit- en leefstyl-ekspo, die Sexpo, se reklameveldtog gesteek ná klagtes dat dié veldtog té stout is.
Die veldtog vertoon 'n vrou se bene wat onderklere op 'n stoute manier uittrek.
Silas Howarth, die direkteur van Sexpo Suid-Afrika, het gesê vorige veldtogte van die Sexpo is ook onder die soeklig geplaas, maar dié keer het hulle besluit die veldtog laat te veel bloos.
"ASA se beslissing het my verbaas. Ons glo dit is ons smaaklikste veldtog ooit."
Howarth het gesê dié veldtog was geskep in die lig van 'n onlangse seksopname wat toon dat baie Suid-Afrikaners stout is.
"Seksualiteit vandag gaan oor die vryheid om jouself uit te druk. Dit is ook oor tong-in-die-kies pret."
"Dit is 'n feit. Mense regoor die wêreld het seks, elke dag. Dit is tyd dat die mense 'n bietjie lewe kry."
Hy het gesê uit respek vir ASA se beslissing, sal die Sexpo hul reklameveldtog voorts aanpas.
– Sapa